Die Ahavah Storie…
Daar was ʼn roeping op my lewe van kleintyd af. Alhoewel ek nie gedink het dat ek in staat sou wees nie, het God, ten spyte van my tekortkominge my geroep tot voltydse diens. As jong teologiese student, het ek reeds ervaar dat ek nie in die tradisionele kerk pas en gaan eindig nie.
In teendeel een van my medestudente het eendag vir my gesê dat hy twyfel in my roeping en dat ek nie hoort in die bediening nie, ek “lyk” nie soos ʼn dominee nie. Hoe lyk ʼn Dominee? Wel nie soos ek nie. Hehehe.
Hy was reg ek pas nie in formele, stywe tradisie en vorms en mensgemaakte wette nie. Ek wil God in vryheid dien. Ek wil nie ʼn titel hê nie, ek wil nie op ʼn hoë kansel staan nie. Ek wil nie gedien en gegroet word op ʼn afstand nie. Ek wil dien en bedien in liefde, met deernis, drukkies en opregte belangstelling in elke mens.
Ek wil vry wees om buite tradisie van “godsdiens” in verhouding te staan met my Skepper, my Verlosser en ek wil aangespoor word deur Sy Heilige Gees. Godsdiens is deur mense geskep, maar verhouding met God, deur God self.
In 2016 het die Here dit al hoe sterker op my hart gelê om die geloofstap te neem en my droom te bewaarheid. Einde Februarie 2016 bedank ek uit die gemeente waar ek gedien het, en ons neem die geloofstap ten spyte van omstandighede en die “nee-mense”. Ons moes weereens uit die boot klim en spreekwoordelik op die “water loop”. Ek moes net my oë op Hom hou en nie op die golwe nie.
Op 3 April 2016 begin ons met ons eerste diens by Bergvallei, nadat ons op 13 Maart 2016 ʼn “diagnose” diens gedoen het by Venue@185 op Beyers Naude Weg, waar ongeveer 140 mense aangedui het dat hul sou belangstel om saam met ons ʼn pad te stap by Ahavah Familiekerk. “Bergvallei Wedding Venue” was goed vir ons, die mense aan bestuur van sake het vriende geword, na agt jaar daar het ons aan beweeg na ‘n ander plek.
Die hoof beweegrede vir ons besluit was bloot vir Ahavah Kids. Die kinders moes lokale deel met ander ouderdomsgroepe. By ons nuwe plekkie, wat ons vanaf 5 Mei 2024 beset het, Laerskool Muldersdrif, was daar oneindig potensiaal by hul kleuterskool en naskool sentrum om ons kinders van 3 jaar tot Graad 11 te akkommodeer in verskillende lokale. Ons is dankbaar teenoor Bergvallei asook die skool dat hul bereid is om saam met ons ‘n pad te stap om ‘n verskil te maak in ons omgewing. Ons bly steeds vashou aan die droom om eendag ons eie geboue en fasiliteite te besit.