Vas en Gebed
- Die belangrikste om te onthou m.b.t. vas is dat vas en gebed gaan hand aan hand.
- Vas is bloot om “tyd te koop” met ander woorde vervang ‘n gewoonte met vas om sodoende meer tyd in my dag te kan spandeer in gebed.
- Vas is nie om God te manipuleer nie, maar om my wil met Sy wil in lyn te kry.
- Vas kan verskillende doelwitte hê en verskil van persoon tot persoon.
a. Is dit nodig om te vas?
i. Vas is nie ‘n verpligting of ‘n wet nie, maar iets wat as vanselfsprekend aanvaar word in die Bybel. Jesus se dissipels het byvoorbeeld in die 3 en half jaar van Sy Aardse bediening nie gevas nie. (Mat 9:14,15; Mark 2:18-20 en Luk 5:33-35) Die volgelinge van Johannes het vir Jesus gevra waarom Sy dissipels nie vas nie, maar hulle wel en die Fariseërs ook. “(Mat 9:14) Daarna kom die dissipels van Johannes na Hom en sê: Waarom vas ons en die Fariseërs dikwels, maar u dissipels vas nie? (Mat 9:15) En Jesus sê vir hulle: Kan die bruilofsgaste dan treur so lank as die bruidegom by hulle is? Maar daar sal dae kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem word, en dan sal hulle vas.”
ii. Vas kan vir verskillende redes plaasvind, nooit sonder rede nie, Vas is nie om God se “arm te draai” om my sin te kry nie, maar om my wil in Sy Wil te plaas.
iii. Vas is die verplasing van tyd met God in my daaglikse roetine. In my besige dagtake maak ek meer plek sodat ek tyd kan spandeer met God, bo en behalwe my gewone stiltetyd. “MEER” (ekstra) tyd met God te spandeer. As ek nie eet nie, gebruik ek die tyd wat ek sou spandeer om kos te maak en te eet, in gebed. (Nie om gewig te verloor nie, dis ‘n dieet)
b. Wanneer moet ek vas? En hoe lank?
i. Waarom wil jy vas?
a. Want ek soek ‘n antwoord op iets wat ek nie kry nie.
b. Want ek tree in vir mense of ‘n spesifieke saak. 2 Sam 12:23 – Dawid vas vir sy seun se lewe, Ester 4 – Volk vas vir voorspoed vir Ester om met koning te praat.
c. Want ek maak my gereed vir iets…. (Lydenstyd)
d. Want ek verootmoedig my voor God en smeek Hom om genade. (Hand 27:33)
e. Want ek wil teen bose veg! – (Mat 17:21, Mark 9:29)
f. Want ek wil mense in amp aanstel. – (Hand 14:23)
ii. Vas is ‘n vrywillige handeling
Ek kan kies wanneer ek dit nodig vind, behoefte het.
iii. Hoe lank?
Ek glo as jy weet waarom jy vas, sal jy ook beter kan bepaal hoe lang tydperk.
C. Is daar verskillende maniere van vas?
a. Tydperke of dae:
Vas vir spesifieke saak of roetine vas.
i. Fariseërs het byvoorbeeld 2 keer per week. (Luk 18:12)
ii. Weeklikse vas of jaarlikse gebeurtenisse.
iii. Totdat ek ‘n doel bereik. (soos bo)
b. Wat opoffer ek op gedurende my vas?
i. Sosiale Media, TV, Stokperdjie, seks (sien Bybelse voorskrif onder), ensovoorts wat ek kies om op te offer om sodoende meer tyd te maak vir gebed. Maak net seker jy het ‘n doel daarmee!
- M.b.t. seksuele vas – (1Kor 7:5) Onttrek julle nie aan mekaar nie, behalwe met wedersydse ooreenstemming vir ‘n tyd lank om julle aan vas en gebed te kan wy; en kom weer bymekaar, sodat die Satan julle nie in versoeking bring deur julle gebrek aan selfbeheersing nie.
ii. Kos:
- Totale vas: Vas van alle vorme van kos, slegs water word gedrink. Maak asseblief seker dat jy medies geskik is vir die tipe vas. Diabete (suiker leiers) kan byvoorbeeld nie die tipe vas doen nie, tensy God jou duidelik so lei en jy jouself gereeld toets.
- “Daniël vas”: Slegs groente en water.
- Gedeeltelike vas: Dit kan een maaltyd per dag wees – vroeë kerk asook oosterse godsdienste is lief daarvoor. Eet slegs na sononder.
- Lekkernye vas: Om lekkernye op te offer, koffie of iets wat jy daagliks eet of drink. Maak seker daar is ‘n doel met dit. As jy byvoorbeeld een maal ‘n maand sjokolade eet help dit nie jy gaan op ‘n sjokolade vas nie!
iii. Positiewe Vas:
Jy kan ook “positief vas”, bv. in plaas van iets ontneem, sit iets by soos water of dalk ‘n uur ekstra in jou dag vir gebed. Staan vroeër op of gaan slaap later. So sit ek iets by in plaas van om iets weg te neem.
Die doel van vas en ander riglyne uit die Woord
Ek kan dit nie genoeg beklemtoon nie. Wanneer jy vas verplaas jy tyd. Jy vervang tyd wat jy spandeer het om iets te doen met tyd vir gebed. Om bloot nie te eet nie, is nie vas nie. Vas en gebed gaan saam. Vas sonder gebed is ‘n “hunger strike”. Die tyd wat ek spandeer het om kos voor te berei en te eet daagliks word nou gebedstyd. Of die tyd wat ek op my foon, tablet of rekenaar gebruik het op sosiale media word nou gebedstyd, so “koop” ek tyd in my besige roetine vir tyd met God. Dis die doel van vas.
a. Om te vas is: Om iets te verplaas met Tyd met God!
b. Meer water drink is gesond, so dis nie ‘n “vas” nie, maar as ek alle ander vloeistowwe opoffer, en elke keer in plaas van koffie maak, net die tyd wat ek koffie sou maak bid, is dit ‘n goeie idee.
c. Honger herinner my – Elke keer as ek lus word vir koffie of honger word, herinner my lyf my om te bid.
d. Wanneer ek vas kan God ook aan my verskyn en iets spesiaal met my deel in ‘n gedagte, ‘n droom dalk op ‘n spesiale manier of op gewone maniere. Die verskil is ek is nou meer oop vir SY inspraak want ek spandeer meer tyd in SY teenwoordigheid. Sien byvoorbeeld – Handelinge 10:30.
e. Geniet jou vas, wees blymoedig, want dis ‘n keuse vir God, vir tyd met God. Moenie soos die Fariseërs rondloop met ‘n lang gesig nie, dis spesiale tyd met God nie ‘n straf nie, maar ‘n voorreg. Matteus 6:16-18.
f. Hoe minder mense weet dat jy vas hoe beter, want eintlik behoort net jy en God te weet sodat Hy jou kan seën of antwoord. Matteus 6:18
Soos jy kan sien, dis tot my eie voordeel om te vas, nie God se voordeel nie. Dis ‘n voorreg nie ‘n straf nie. Moenie dit sien as ‘n opoffering nie, maar as ‘n verplasing, ‘n manier om meer doelgerigte tyd met die Here te spandeer.
Ek bid dat jou vas tydperk vrugtevol sal wees. Die begin van groot dinge vir jou.